Raar maar waar - Kapenaar stap land platvir genesing

KAAPSTAD. — Met net haar voete, haar stapstokke en 'n GPS het 'n Kapenaar die onmoontlike gedoen.

Charlotte Steyn (34), 'n projekbestuurder van Parklands, het Sondag 'n reis van 5 327 km voltooi wat sy in Maart vanjaar begin het. En dit net op haar twee voete.

Steyn het 162 dae lank deur die nege provinsies in die land gestap om SuidAfrikaners bewus te maak om nader aan mekaar te leef.

Sy het ook gestap om bewusmaking te kweek van nege welsynsorganisasies — die Nelson Mandela-kinderhospitaal, die opvoedingsorganisasie Bokamoso, die Hart-en-beroerte-stigting, die Leonard Cheshire-liefdadigheidsgroep, die Forum vir Suid-Afrikaanse Bejaardes, die Tshepang-stigting, die Black Sash, Food & Trees for Africa en Adopt-a-Pet.

Sy het gister vertel sy het 'n punt bereik waar sy haarself afgevra het wat presies daardie gaping in haar lewe is wat sy voel sy moet vul.

Sy het besluit sy wil iets "doen" en het op die Suid-Afrikaanse padkaart die omtrek van 'n hart geteken wat deur al nege provinsies loop.

"Ek het besef Suid-Afrika het 'n skewe hart en het genesing nodig."

Sy het besluit om op 'n staptog te gaan en het nege welsynsorganisasies gekies waarvan sy mense bewus wou maak.

Op 16 Maart het sy haar staptog begin. Sommige dae het sy langer gestap as ander en sommige aande het sy onder 'n boom geslaap, ander kere by 'n polisiekantoor. Mense het ook baie kere sowat 5 km saam met haar gestap, het sy vertel. Dit was hier waar sy haar boodskap oorgedra het.

"Ek wou met hierdie staptog mense se denkwyse verander oor hoe ons weer by mekaar se lewens betrokke moet raak en om nie op te hou omgee vir mekaar nie." Haar laaste twee dae op pad terug Kaapstad toe was vir haar die moeilikste.

"Ek het my linkervoet beseer, maar ek was so naby aan die einde. . . Ek het net besluit ek gaan nie tou opgooi nie. " (Deur CarrynAnn Nel, Boos verskyn in Die Beeld op 23 Oktober 2013)